SKOOLREëLS
Dit is vir ons belangrik om sekere reëlings te tref en reëls neer te lê rondom die volgende aspekte:
Versorgingstye / Kleuterskool ure: Maandae tot Vrydae:
Voldag: 6:45 – 17:30
Halfdag: 6:45 – 13:30
Alle kinders moet by aankoms in die sorg van ‘n personeellid gelaat word.
Monnies Voorskool is naweke en vakansiedae gesluit asook tydens enkel
werksdae wat val op skoolvakansiedae. Ons is tydens die Kersseisoen
gesluit vanaf die einde van die skoolkwartaal vir ongeveer 4 weke. Die
spesifieke datums sal op die jaarprogram verskyn.
Afhaal van leerders:
Toestemming, per e-pos of whatsapp moet deur ouers/voogde gegee word indien daar gereël is dat ‘n ander person (anders as die ouers/voogde) kleuters kom haal. Indien moontlik moet die boodskap van ‘n foto vergesel word.
Ons eerste prioriteit is om ons kleuters se veiligheid te verseker en om te verseker dat ons onderwyseresse te alle tye behoorlik ingelig is. Ons versoek dus dat u hierdie reëling getrou nakom.
Etenstye:
Ontbyt: Word self voorsien tuis (tensy anders gereël)
Oggendhappie: 10:00 – Self voorsien (broodjie, vrug en sap/water)
Middagete: 12:00 – Soos op spyskaart op Kennisgewingbord
Middaghappie: 14:30 – Sap en toebroodjies (deur skool voorsien)
Mediese versorging
Monnies Voorskool aanvaar geen aanspreeklikheid vir die toediening vanmedikasie, tensy dit duidelik gemerk en in die medisynehouer geplaas is nie. (Nie in die tas nie.)
ALLE medisyne moet soggens deur ouers in die medisyneregister aangeteken word met die tyd van toediening en hoeveelhede. Ouers kan medisyne in die medisynehouer bêre.
In die geval waar kind(ers) koors ontwikkel gedurende skoolure, sal telefonies toestemming verkry word om medikasie toe te dien, waarna dit deur die betrokke onderwyseres in die medisyneregister aangeteken sal word. Koorsmedisyne sal slegs toegedien word indien toestemming deur die ouer ontvang is.
Waar kinders siek word tydens skoolure sal die skool die kind(ers) se ouers kontak en moet die kind(ers) so gou moontlik afgehaal word.
Aansteeklike siektes
U word versoek om nie u kind met ‘n aansteeklike kindersiekte of enige ander aansteeklike siekte skooltoe te stuur nie.
Waar aansteeklike siektes gediagnoseer is moet kind(ers) tuis versorg word totdat hulle nie meer aansteeklik is nie-(selfs in gevalle van ligte koors en maagaandoenings.)Die personeel sal genoodsaak wees om kinders huistoe te stuur indien hulle siek skooltoe gestuur word.
Kopluise
Kopluise maak van tyd tot tyd hulle verskyning in enige skool, ons sien hierdie saak in ‘n ernstige lig. Indien daar kopluise op kind(ers) se koppe gevind word sal ouers versoek word om hul kind(ers) by die skool te kom haal. Kind(ers) sal nie by die skool terug ontvang word indien ALLE tekens van luise en nete van die kop verwyder is nie, aangesien dit ander kinders mag besmet.
Speelgoed en Kos
Speelgoed:
Kleuters word nie toegelaat om enige speelgoed van die huis af saam te bring skooltoe nie. Ons weet dat daar altyd ‘n behoefte is om speelgoed saam te bring. Daarom het ons ‘n reëling om die laaste Vrydag van ‘n maand “SPEELGOED-DAG” te maak. Ons versoek dat daar nie elektroniese speelgoed in die vorm van tablette en telefone skooltoe sal kom nie. Moet ook nie duur speelgoed stuur nie, aangesien ons nie verantwoordelikheid kan neem vir die toestand waarin die items terugbesorg word nie.
Kos:
Monnies Voorskool verseker dat elke kleuter elke dag gesonde en
gebalanseerde etes kry. Daar word van u verwag om vir Happietyd ‘n
gesonde kosblik te pak met beperkte suikerinhoud. Geen gaskoeldranke nie.
Buitemuurse aktiwiteite
Die volgende aktiwiteite sal deur buite- personeel aangebied word na gelang van die belangstelling:
• Playball
• Besige Lyfies (Wiskunde met beweging)
• Dance Mouse
• Ballet
• Muddy Buddies (Pottery)
